Nadat ‘n uitgebrande Arriana haar werk as maatskaplike werker bedank, bevind sy haarself as kelnerin by ‘n spoghotel in Mauritius. Dinge verloop egter nie so glad soos sy gedink het nie en nie net omdat sy nie gewoond is daaraan om vatterige mans af te weer, borde op haar arms te balanseer en heeldag drankies aan te dra nie. Heelwat nuwe uitdagings kom te voorskyn soos die Ierse triljoenêr, Finn O’Reilly, wat onverwags sy verskyning maak om die ongerymdhede by sy hotel te ondersoek. Sy probeer egter om uit sy pad te bly, want die gevoelens wat sy teenoor hom ervaar kan tog nie veilig wees nie, kan dit? Dan is daar ook sprake van die verdwyning van dogtertjies op die eiland wat al hoe meer onrus veroorsaak. En wat is dit met hierdie vreemde gas wat haar ‘spidey-sense’ so op hol jaag?
Reis deur die hart (1ste uitgawe), uitgegee in 2018 deur Lapa Uitgewers, was Leandra Naudé se debuut publikasie waarvoor sy die 2019 ROSA Imbali Toekenning vir Uitmuntendheid in die Skryf van Romanses verwerf het. Leandra kon egter nie die storie afsluit met “Die einde” nie en so het Reis deur die hart, Boek 1 van 3 geword in Die Reis reeks. Reis deur die hart word  opgevolg deur Reis deur Klatergoud en Reis deur Geheime. Hierdie 2de uitgawe van Reis deur die hart is grootliks ‘n herdruk van die 1ste uitgawe behalwe vir klein veranderinge en terugvoegings deur die outeur uit die oorspronklike manuskrip  en nou gepubliseer deur Madsock (Pty) Ltd. as Romatiese Fiksie.

bookmarkcrosslist